Edition / Uitgawe Oct 2022

Skool, musiek en taal ‘n wenresep

‘n Mens kan nie help om te wonder of skool, musiek en taal die resep is vir die sukses wat die Afrikaanse folk-duo Vrede tans met hul eerste Afrikaanse enkelsnit en musiekvideo behaal nie.

Old Boys Francois Roux en Storm Opperman (albei 2015) maak deesdae gereeld hul verskyning op televisie en radiostasies om oor die lied Perspektief te praat. Die video-opname is in die strate van Stellenbosch verfilm en kan dus as ‘n terugkeer na hul wortels beskou word. 

Hulle het in 2020 na Gauteng verhuis nadat die twee as The Stinging Rogers een van die bedrywigste groepe in die Wes-Kaap is. Francois is deesdae publisiteitsbeampte by Vonk Musiek, maar die twee het ook ‘n vol program van optredes, onder meer by Storm se pa, die bekende Dozi, se venue.

Perspektief se lirieke is deur Opperman geskryf en is geinspireer deur padwoede. ‘’Wanneer ek bestuur, sukkel ek om nie kwaad te raak vir ander mense nie. Dié reaksie belemmer egter jou perspektief en sien jy net die een kant van die storie.’’ 

Roux meen in Suid-Afrika met sy groot kultuurgapings kan almal baat vind deur mekaar se opinies te respekteer. Ons doel met die lied is om ’n positiewe boodskap oor respek vir mekaar uit te stuur, het hy gesê.

In Perspektief word ‘n bekfluitjie gebruik om daardie egte tuis-en-warm Afrikaanse gevoel te skep, volgens Roux. 

Op skool was Roux en Opperman sulke hegte vriende dat hulle gereeld saam uit die klas gejaag is oor stoutighede en op Maties het hulle dieselfde studierigting gevolg – musiekbesigheid.

Na universiteit het die wanderlust Opperman na Europa gelok, waar hy onder meer op ‘n seiljag gewerk het en straatmusikant in Frankryk was. Met sy terugkeer het hy en sy boesemvriend gou weer hul bande hernu. 

Vrede beplan om voor Desember nog twee enkelsnitte uit te reik wat aanlyn beskikbaar sal wees.

Vir meer inligting oor Vrede klik hier.

Luister sommer nou na Perspektief deur op die volgende skakel vir alle digitale platforms te klik: 

https://linktr.ee/vredeband

Die groep het onlangs hul jongste enkelsnit vrygestel – Die onskuld van ‘n kind.