Edition / Uitgawe Apr 2017

Piet (Peter) Viljoen (1956): 2 September 1939 – 14 March 2017

Peter, by sy 60-jaarreünie verlede jaar.
Peter, by sy 60-jaarreünie verlede jaar.

Peter (Piet) Viljoen (1956), bekende inwoner van Stellenboch en ʼn meelewende Old Boy wat geen reünie ooit gemis het nie, is op 14 Maart 2017 ná ʼn kort siekbed oorlede.

Peter, wat as stut uitgedraf het vir die 1ste span van 1956, is in die ou Noord-Rhodesië (vandag Zambië) gebore, en na sy laerskooljare in Pretoria, was hy van standerd 6 tot matriek in Paul Roos.

Hy is eers na die Lugmaggimnasium voor hy die graad B.Econ. aan die Universiteit van Stellenbosch behaal het, waarna hy etlike jare in Nuweland, Kaapstad, gewerk het voor hy hy sy eie finansiëledienste-maatskappy in Stellenbosch in 1986 gestig het.

Peter het sowat 45 jaar lank in Van der Stelstraat in Mostertsdrift gewoon. Hy was getroud met Renee, wat jare lank aan die laerskool Rhenish skoolgehou en hom in 2006 ontval het. Peter het dikwels in Europa, Australië en Nieu-Seeland gereis waar hy ook baie vriende gemaak het.

Peter was ʼn bekende in die Stellenbosse gemeenskap. Hy was by die Lions betrokke en ook in amateur-teaterkringe, waar hy veral bekend geword het vir sy optredes in tradisionele kostuum as landdros Johannes Mulder, heel eerste landdros van Stellenbosch, by die Van der Stel-feeste, en ook as landdros Heinrich Ludwich Blettermann by die Vriende van die Museum se safari-etes.

Hy het ook ʼn ruk lank in die Stellenbosse stadsraad gedien.