Edition / Uitgawe Dec 2017

Tannie Dinks Liebenberg op Grahamstad oorlede (4 Februarie 1922 – 2 Desember 2017)

Magdalena Catherina Liebenberg, by ons beter bekend as Tannie Dinks, is op Saterdagoggend 2 Desember 2017 rondom eenuur die oggend oorlede. Sy was 95 jaar oud. Die laaste oorlewende kind van Paul en Suzie Roos het die vorige oggend kort na tien ‘n beroerte gehad .

Sy matrikuleer in 1938 aan die Hoër Meisieskool Bloemhof, waar sy haar hele skoolloopbaan deurgebring het. Sy behaal haar BA -graad aan die Universiteit van Stellenbosch en begin daarna haar onderwysloopbaan aan die Hoërskool Outeniqua op George. Sy hou ook op Moorreesburg skool.

Op 4 Februarie 1950 trou sy met Bennie Liebenberg. Hulle het vier kinders: Lynette, Marlene, André en Suretha. In haar vroeë getroude jare was sy baie aktief op skoolkomitees, die VLV, die Tafelronde en by Kindersorg-fondsinsamelings .Sy was ‘n ywerige eiendomsagent in Pretoria en later op St. Francisbaai, waar sy afgetree het. In haar aftreejare was sy betrokke by die Tuinbouklub en stigterslid van die St. Francisbaai-brugklub. Tannie Dinks en haar man was ook kranige tennisspelers. Bennie, ‘n bestuurder by Standard Bank, is in 1992 oorlede.

Tannie Dinks was baie trots op die skool wat na haar pa vernoem is. Sy was haar pa se kind en deur haar het ons Paul Roos en sy waardes leer ken. Sy het PRG gereeld besoek. Tydens haar voorlaaste besoek het sy ongeveer 15 dagboekies van Oom Polla aan die argief geskenk. Sy het ons kosbaarste kleinood vir laaste gehou.

Mariena Kotze
PRG Argief