While the school and the university parted ways more than a hundred years ago, ties are being kept strong between US and PRG, especially by means of honorary doctorates to Old Boys who have excelled in their respective fields as well as by being awarded the Chancellor’s Medal for the top academic performer final year student. Two Rolls of Honour were recently unveiled in the foyer of the school to give recognition to them.
Verlede jaar (2018) was dit presies ’n honderd jaar vandat die Victoria-kollege en die Stellenbosch Boys’ High School amptelik geskei het. Op 2 April 1918 het die kollege volwaardige universiteitstatus verwerf en van toe af as die Universiteit van Stellenbosch bekend gestaan.
Hoër onderwys het reeds van vroeg af ’n plek in die skool gehad. In 1874 het die Arts Department tot stand gekom as die beginpunt van die latere universiteit. In 1881 word dit die Stellenbosch College en in 1887 word dit tot die Victoria College herdoop ter ere van Koningin Victoria se 50ste herdenkingsjaar as koningin van Brittanje.
In 2018 was die US dus amptelik ’n eeu oud. Vanjaar is dit al 100 jaar vandat die US vir die eerste keer in 1919 eredoktorate toegeken het. Sedertdien het oud-skoliere uit PRG reeds 26 keer US-eredoktorate vir uitsonderlike prestasies ontvang.
In 1961 is die US-kanseliersmedalje ingestel vir die beste finalejaarstudent met inagneming van sy of haar akademiese rekord oor sy of haar voorgraadse universiteitsloopbaan. Sedertdien het oudskoliere van PRG dit reeds 13 keer ontvang en dus amper 23% van die ontvangers opgelewer.
Om erkenning aan die PRG ontvangers van US eredoktersgrade en Kanseliersmedaljes te gee, is ereborde gemaak en op Vrydag 17 Mei in die skool se voorportaal onthul.
Dr Edwin Hertzog (1966), self in 2014 ’n ontvanger van ’n eredoktersgraad, was die gasspreker. Die Hertzog-familie het ’n baie lang verbintenis met die skool, wat al in die 1880’s begin het toe vier Hertzog-broers hier gematrikuleer het.
Terloops, oud-premier JBM Hertzog was ’n 1886 matrikulant hier. Hy was ook die enigste oud-premier wat US se aanbod van ’n eredoktoraat geweier het.
Onder die kanseliersmedaljewenners by dié geleentheid was prof. Sarel Steel, prof. Anton van Niekerk, dr. Wilhelm Verwoerd, dr. Fanie du Toit en prof. Dirk I.L. de Villiers, asook die ouers van prof. Laurentius Marais, dr. en mev. Marais van La Clémence.
Mariena Kotze
PRG Argief
