Wat doen oud-hoofseun van 2003, Dan Hugo, en sy vrou, Flora Duffy, hier voor Buckingham-paleis? Wel die foto is in Junie verlede jaar geneem toe Flora ’n OBE (Order of the British Empire) van Prins Charles ontvang het vir haar bydrae tot sport in Bermuda, waar sy grootgeword het.
Flora is ’n tweemalige driekamp-wêreldkampioen en het ook aan twee Olimpiese Spele deelgeneem.
Dan en Flora is in Desember 2017 op die Hugo’s se familieplaas naby Aan de Doorns, Worcester getroud.
Dan self is ’n voormalige XTERRA driekampatleet. Hy het in 2004 aan sy eerste XTERRA-kompetisie deelgeneem. Gedurende sy loopbaan het hy meer as 70 maal onder die top vyf geëindig, waarvan hy vyftien keer die kampioen was en 22 keer die tweede plek verower het.
Sy pa, Stefan, het op sy dag vyf maal die Bergrivier-kanomarathon gewen, die eerste keer in 1976.
Hopelik gaan daar oor ’n dekade of twee weer ’n Paul Rooser met hierdie sterk sport- en leierskapsgene op skool wees.
