Edition / Uitgawe Jun 2019

Justin Harding verras op Augusta met vuurwarm setwerk

Riaan Gerber (klas van 1972), Die Burger, 16 April 2019

Old Boy Justin Harding’s solid performance at Augusta in April was the highlight of the US Masters for South African golf fans, but it came as no surprize for those that know him well. Hard work not only turned around his golfing career, but may also open other doors for him on the international scene. He is currently ranked 44th in the world, but with his new confidence, work ethics and big stage temperament Harding is a golfer to watch.

Tiger Woods se sege in die Amerikaanse Meesters op 14 April vanjaar het wêreldwyd die hoofopskrifte gehaal, maar vir Suid-Afrikaners was die 33-jarige Justin Harding (en Paul Roos Old Boy, klas van 2004) se verstommende Meesters-debuut waarskynlik die hoogtepunt van die toernooi.

Harding het die Meesters op skouspelagtige wyse begin en geëindig. Harding het gewys hy het senuwees van staal toe hy op die eerste putjie met ’n voëltjie begin het en het die toernooi ook met een afgesluit.

Hierdie voëltjie van Harding op die 72ste putjie het gesorg dat hy in die 12de plek geëindig het. Dit beteken hy sal volgende jaar weer in die Meesters afslaan, want alle spelers wat onder die top-12 eindig, kry ’n uitnodiging na die volgende jaar se aksie op Augusta.

Harding se statistieke onderstreep sy suksesverhaal:

  • Hy het 21 voëltjies behaal – 3 daarvan was op die moeilike 12de putjie;
  • Met die lang setstok in die hand was hy vuurwarm op die setperke en Harding, Francesco Molinaro, Patrick Cantlay en Rickie Fowler se set-statistieke was die beste van al die spelers;
  • Ná drie rondes het Harding die minste sethoue van al die spelers geslaan – 79; en
  • Hy het 75% van die setperke in regulasiehoue gehaal en sy gemiddelde dryfafstand was net onder 300 treë.

Met Harding se puik vertoning in die Meesters het hy nou na die 44ste plek op die wêreldranglys opgeskuif.

Sy posisie op die ranglys is die negende beste van alle internasionale spelers (VSA-spelers en Europese spelers uitgesluit) en hy staan dus ’n baie goeie kans om later vanjaar in die Presidentebeker-toernooi vir die internasionale span te speel.

Die top-10 internasionale spelers op die wêreldranglys tans is Jason Day (13), Louis Oosthuizen (21), Marc Leishman (22), Hideki Matsuyama (26), Adam Scott (27), Cameron Smith (29), Haotong Li (38), Kiradech Aphibarnrat (41), Harding 44 en Branden Grace 45.

Een van die Sonskynreeksspelers wat vir Harding sedert hul junior dae goed ken, is JJ Senekal, wat soos hy ook lid van die Stellenbosch-klub is.

Senekal sê twee van die redes vir Harding se sukses die laaste tyd op die baan is die vertroue wat hy op die setperk het met die lang setstok, asook sy werk-etiek.

“Sedert Justin weer met die lang setstok begin speel het, het sy vertroue op die setperke baie toegeneem. Verder het hy sy loopbaan omgedraai toe hy begin het om hard te oefen. Sy werk-etiek van die afgelope jaar of wat het van hom ’n baie beter speler gemaak.”

Senekal sê ook Harding is op sy beste op die groot verhoog. “Hoe meer mense vir hom kyk, hoe beter speel hy.”

Die media het tydens die Meesters vir Harding gevra of hy soms die telbord dopgehou het. “Ek het die hele tyd na die telbord gekyk. Dit was die eerste keer wat my naam op die Meesters-telbord verskyn het en ek wou dit vir niks mis nie,” was Harding se antwoord.

Senekal sê ’n kenmerk van Harding se spel is dat hy die penne aanval en altyd aggressief speel. “Dis hoe hy nog altyd gespeel het en dis hoe hy ook in die Meesters gespeel het.

“Maar Justin het ook geleer om slimmer te speel. Hy sal nie meer op elke putjie ’n drywer slaan nie.

“Sy joggie, Alan Burns, wat voorheen vir George Coetzee sak gedra het, help hom baie om die regte besluite op die baan te neem.”

Hierdie artikel word met verlof van die skrywer en Die Burger gepubliseer