Dié besondere boek wat onlangs uit die pen van Old Boy Anton Müller verskyn het, is nie net ‘n moet lees vir sy skoolmaats nie, maar lewer ook ‘n belangrike bydrae tot beter begrip van die wêreld van outisme.
Ons haal aan uit die flapteks:
Anton Müller is in 1962 as driejarige met ‘n ernstige graad van outisme gediagnoseer en as ‘onopvoedbaar” geklassifiseer. Hy sou waarskynlik in ‘n inrigting geplaas moes word. Sy ma het egter besluit dat Anton sy plek in die samelewing met waardigheid moes vol staan. Hy is in die “spesiale klas” van Paul Roos Laer geplaas, waar sy lewensreis ‘n verrassende koers ingeslaan het. ‘n Groepie kinders het hom omarm – met Anton wat op sy beurt hulle lewens verryk het met sy unieke talente en sin vir humor. Drie jaar gelede het hy begin om sy herinneringe van die afgelope ses dekades neer te skryf. Sy teks word aangevul met vertellings deur vriende, familielede en onderwysers. Enersyds gee dit ‘n blik op hoe iemand met outisme die “normale” wereld ervaar; andersyds gee dit vir die buitestander ‘n kykie na die intense afgeslotenheid waarbinne ‘n outistiese mens leef.
Kyk gerus ook hier (https://www.youtube.com/watch?v=jfk6RWNIAqY) na die bekendstelling van die boek by die Ou Landbousaal, waar klasmaat Bun Booyens, wat ook betrokke was by die verwerking en redigering van Anton se verhaal, die spreker was.
Die OSU help met die verkope van sy boek, beskikbaar teen R240, net kontantverkope.

