Edition / Uitgawe Apr 2021

Nic de Jager (1958) ontvang nog ‘n eerbewys vir sy lewenswerk

Nic de Jager (1958) recently received a second lifetime award for his work as broadcaster, commentator and producer, this time from KykNet Fiesta. At his Alma Mater his mentorship to the editorial staff of the schoolpaper Semper also left an indelible mark as can be seen from a string of special messages.

Nic de Jager is in Maart by die Fiësta-toekenningsaand van KykNet vir sy lewenswerk vereer.  Verlede jaar is ‘n soortgelyke eerbewys deur die ATKV aan hom oorhandig.

Die sitaat het soos volg gelui: “Ou uitsaaiers word nooit oud nie, hulle bly uitsaai en hou nooit op praat nie. Soos wat Nic de Jager – legendariese uitsaaier, stemkunstenaar, akteur en programvervaardiger – aan ons bewys het.”

Die volgende boodskappe uit die geledere van Paul Roos Gimnasium, waar Nic al jare lank by die Semper-skoolpublikasie maar ook in ander hoedanighede betrokke is, plaas dié stelling in konteks:

  • Francois du Toit (Hoofredakteur Semper 2019)

Nic, ek het jou nog altyd ervaar as ’n persoon wat nie bang is vir werk nie. Jou persoonlikheid vul jou werketiek só aan dat daar altyd ’n perfekte balans weerspieël word tussen die erns van ’n taak en die humor in die lewe. Jou akkommoderende gesindheid, gepaardgaande met jou joernalistieke insig, sorg dat dit plesierig is vir enigiemand om saam met jou te werk – ongeag die persoon se ouderdom. Dit is iets besonders wat ek nog altyd van jou waardeer het. 

  • Charl Smit (Hoofredakteur, Semper 2016 in sy Graad 11-jaar)

Nic, ek as oudredakteur van Semper, sal die onbaatsugtige, professionele lesse wat jy en Juffrou my geleer het, ewig saam met my dra, maar nog meer as dit onthou ek die mooi manier waarop julle my en die redaksiespan gehanteer het.

Jy, Nic, is die toonbeeld van uitnemendheid en dit is uitsonderlik dat ʼn man van jou kaliber steeds tyd en aandag aan sy alma mater wy om skoliere te motiveer en inspireer. Mag jou stem nog ʼn dekade of twee deur die gange en oor die radiogolwe weerklink…

  • JD West (Hoofredakteur, Semper 2018)

Nic, jy was altyd in die beste moontlike bui en vol grappe. Om saam met jou te werk was ’n fees. Jy was altyd bereid om jou kennis te deel om saam met juffrou Van der Mescht PRG se publikasies so goed as moontlik te maak. Die ure wat ek saam met jou aan publikasies bestee het, was nie net leersaam nie maar ook vol eindelose wysheid. Jy is een van die interessantste mense in dié land van ons en kan vir baie nogal iets leer oor die lewe. 

  • Willem Wilken (Adjunkredakteur Semper 2013, Rhodesbeurswenner)

Nic!! Hier vanuit ’n bibberkoue Oxford: Ek sal my voortande gee om weer ’n Semper-beplanningsbraai by julle huis by te woon, of om saam met jou langs die rugbyveld te staan en foto’s neem. Baie dankie vir dit wat jy my geleer het oor bladuitleg, oor fotografie – en oor die lewe!

  • Ferdinand Botha (Hoofredakteur Semper 2013)

Nic, jou bydraes het die taak van ’n Semper aanmekaarsit, omskep in ’n lekker en leersame ervaring. Vir elke bladsy waar ons ’n foto nodig gehad het, kon ons steun op iets wat jy met jou kamera vasgevang het. Elke nuwe uitlegredakteur sou eintlik eers begin verstaan hoe uitleg regtig werk ná een van jou opleidingsessies. En as ons aktivisties wou raak oor die een of ander nuwe beleid wat deur die skoolowerhede ingestel is, dan was jy altyd gereed met aanhalings uit Van Wyk Louw se Lojale Verset.

  • Jean Meiring (Hoofredakteur Semper 1991, advokaat Johannesburgse Balie, skrywer en resesent)

Nic de Jager het in 1991, my matriekjaar, toe Paul Roos sy 125ste bestaansjaar gevier het, by die skool betrokke geraak as vryskut-kulturele faktotum, alomteenwoordige kiekiemaker en elegante man about town. Met sy stem (daai stem!), die boekery en plateversameling in sy kop en sy sardoniese humorsin het hy gou ‘n instelling geword. As hy dáár was, by konsert of toneelopvoering of rugbywedstryd, was daar ‘n ekstra lading gesofistikeerdheid, okkasie en (gaandeweg ironies dalk) jeugdigheid. Synde geen onderwyser nie, kan ‘n mens hom seker nie met James Hilton se Mr Chips vergelyk nie, maar tog net so bewonder en geliefd is hy … Eendag as dit jammerlik reent – baie jare in die verskiet – hoop ons almal, sal hy ‘n onvulbare leemte laat.