In sy eie woorde vertel André Albertyn (1973) hoe hy matriek klaar gemaak het deur die minimum te leer, maar dit het hom nie teruggehou in sy beroepsloopbaan nie.
Ek het na Weermag in 1973 siviele ingenieurswese gestudeer en in my finale jaar darem ‘n paar vakke cum laude deurgekom. Daarna het ek by ‘n private praktyk aangesluit, vroeg ‘n direkteur geword en ‘n groot kantoor in Port Elizabeth bestuur.
In 2001 het ek my eie kantoor oopgemaak en ‘n baie suksesvolle praktyk op die been gebring wat ek toe oorhandig het aan my seun [nou 35] in 2018, ‘n hoogs intelligente struktuur-ingenieur wat sy M-graad aan die Universiteit Stellenbosch met cum laude geslaag het in 18 maande van die 24 maande curriculum. Hy bestuur die kantoor en sorg dat die praktyk groei. Ek self werk nog van Onrus af.
My dogter [39] is ‘n senior aktuaris in Kaapstad by ‘n groot internasionale maatskappy.
Nou die idee is nie om te spog nie, maar om vir die wereld daar buite te wys, dat ‘n E-simbool (40 – 49 persent) nie ‘n doodsvonnis is nie. Ek moet bysê, tot my eie verdediging, dat skoolvakke my baie verveel het en dat ek die minimum geleer het. Ek dink dit was die rede hoekom my arme ma weens spanning so straf begin rook het. Sy het gedink ek sal na skool by die Spoorweë gaan aanklop vir ‘n basiese ambag.
Nou ja, na hierdie staaltjie het ek nou ‘n duidelike bewys van my matrieksimbole by die skool gekry. Dit sal my familie seker skok tot in hul fondamente.
Ek deel gerus hierdie woorde as inspirasie vir diegene met “swakker” simbole. Ek hou daarvan om mense te bemoedig.
André Albertyn (1973)
