Meestersgholftoernooi vroeg in Desember

Die Old Boys Meestersgholfkampioenskap vind vanjaar op Vrydag 1 Desember 2023 by die Devonvale-gholfklub plaas.

Die Old Boys Meestersgholfkampioenskap is seker die enigste  gholfdag van sy soort op die kalender en slegs vir PRG Old Boys. Dit word oor 27 putjies gespeel. Die wenner ontvang die PRG Maroen-baadjie. Inskrywingsgeld beloop R550 per deelnemer.

Kry meer besonderhede op die grafika hierbo.

Senior middagete

Lede van al die jaargroepe tussen 1950 tot 1969 is baie welkom by die Senior Middagete en ook om die seremonie vir Wapenstilstanddag by die skool op 10 November 2023 om 10:45 by te woon. Bevestig bywoning en bespreking vir gades voor of op 4 November.

Klas van 1958 trek saam na 65 jaar

Op Vrydag, 22 September 2023 het die matrieks van 1958 hul 65-jaar-reünie gevier. Die groep is hartlik deur die rektor mnr. André van Staden in die Mediasentrum verwelkom en toegespreek. Heerlike verversings is deur Helene van Wyk verskaf waarna hul deur mnr. Dorfling Terblanche op ‘n skoolbesigtigingstoer geneem is. Die besonderse groep manne onder leiding van prof. James Joubert het ‘n watertand-middagete by Markötter Sportsentrum geniet. Die res van die middag het hulle almal saam by Babylonstoren gekuier en die aand gesellig afgesluit by die Volkskombuis restaurant.

Vyfjaarreünie in Julie gehou

Klas van 2018 het op Saterdag 22 Julie hul 5 jaar reünie gevier. Daar lê nog ‘n lang pad voor tot by 65 jaar, maar enige reis begin met die eerste tree en aan geesdrif ontbreek dit nie. OSU-ondervoorsitter Niel Roode (2010) het hul te woord gestaan. Hier staan hy saam met Ivan van der Merwe, wat die reëlings gekoördineer het.

Die OSU se nuwe jeugkomiteelede stel hulself bekend

Henri Beyers

My naam is Henri Beyers en ek is ‘n PPE-student (Politics, Philosophy and Economics) in my derde jaar op Stellenbosch. Ek woon al 21 jaar op Stellenbosch en het in 2020 gematrikuleer. EK het tot my volle vermoë bygedra tot die PRG-legende: as cheerleader, op die Semper-redaksie gedien, sport beoefen, ens. Met my toewyding in hierdie rol beoog ek om verder die ryk en netwerkingsvermoë van die PRG Old Boy-gemeenskap uit te brei. Ek het heelwat ervaring in die veld van “networking”, sosiale media en interpersoonlike logistieke bestuur wat ek oor die afgelope drie jaar in Eendrag-manskoshuis opgedoen het. Ek sien met mening uit na die potensiële bydrae wat ek kan lewer tot die uitbou van PRG as instelling.

Ruben Venter

My naam in Ruben Venter en ek het in 2019 gematrikuleer. Ek is van graad 8 af in Prima koshuis gewees en het elke oomblik geniet. Ek swot Bedryfs Ingenieurswese by Maties en is in my derde jaar op kampus. Ek het vir die skool baie lief en met elke jaar buite die skool besef ek hoe baie die skool doen vir die leerders en old boys. Ek wil hê nuwe leerders moet dit vroeër agter kom sodat hulle nie so lank vat om te besef wat hulle op uitmis nie. Ek sien baie uit om by die unie by te dra en moontlik verbeteringe kan maak.