Edition / Uitgawe Mar 2019

Swem by Paul Roos kom al ‘n lang pad

Foto: PRG Argief

Die eerste swembad van Stellenbosch Boys’ High School (Stellenbosch Hoër Jongenskool)  is rondom 1910 in Victoriastraat geopen. Jaarlikse swemgalas is al sedert die 1912-1913-seisoen hier gehou en die swembad, waarvan die geriewe gedeel is met die Kollege en later die Universteit, is eers gesloop toe die US se nuwe swembad op Coetzenburg in 1940 in gebruik geneem is.

Skuins agter die swembadgebou is die vierde skoolgebou (1907-1946) sigbaar. Hierdie gebou is deur die Duitse argitek FW Hesse in die Hollandse Renaissancestyl ontwerp. Hesse het ook die Bloemhofgebou in Ryneveldstraat in dieselfde styl ontwerp.

Die skoolgebou is  tydens mnr. Willie Hofmeyr se rektorskap betrek. Dit is hier  waar Oom Polla 30 jaar lank die rektor was, van einde April 1910 tot einde 1940.

Vandag huisves die gebou die Departement Visuele Kunste van die Universiteit van Stellenbosch. Die gebou is wit geverf en het al sy torinkies verloor.

Die oop veld voor die swembadgebou is die beroemde Pawiljoenveld, wat vir die Victoria Kollege as rugbyveld gedien het tot rugby in 1928 na Coetzenburg verskuif het.

Die skool het van 1940 af van die US se swembad op Coetzenburg gebruik gemaak vir swem en waterpolo en eers in 1974 op sy  huidige terrein weer ’n eie swembad gekry. Die Antonij Rupert Akwatiese Sentrum is in 2009 geopen.

Print Friendly, PDF & Email