Trek aan jou das en kom!

Klik op die plakkaat hieronder: Hoor die gedreun en voel die geesdrif opbou!

Die jaarlikse massa-reünie, algemene jaarvergadering en dinee lê om die draai. Maak seker jy is op Vrydag 19 Mei 2023 om sesuur in die PRG-sentrum. Bespreek jou en jou maats se plekke voor Vrydag 5 Mei.

Hierdie geleentheid is vir alle jaargroepe, van 1950 tot 2022.

Dress to impress!

Here is a chance to don your Old Boys tie and if you have one, the Old Boys blazer.

The mass reunion, annual general meeting and Old Boys Union Dinner will be held this year on Friday 19 May 2023 at 18:00 in the PRG Centre. Book your and your pals places now.

We would like to see members of all the year groups from 1950 to 2022 there.

Klas van 1973 sorg vir merkwaardige tien dae lange 50 jaar-reunie

Hierdie samevatting is ‘n baie verkorte weergawe van Pieter van Zyl se terugskouing wat op hul blog verskyn: https://prg1973.co.za/

Die klas van 1973 het vanjaar ‘n besonderse reünie gevier, en hul bedrywige program gaan moeilik geklop word, plus hulle het in die proses ‘n voortreflike blog geskep wat voortdurend bygewerk word.

Die reëlingskomitee (RK) wat hierdie spesiale geleentheid beplan het, het bestaan uit Pieter van Zyl, Nols Heunis, Michael Prins, Riaan Swiegers, Kobus Theron, Frank Meaker, Leon Mostert en Danie van Niekerk.

Daar is besluit om ‘n “modulêre” benadering te volg in die opstel van die reünieprogram, Die onderliggende gedagte was dat elke persoon dan self kon besluit watter modules en/of aktiwiteite hy (en sy gade of metgesel) wil bywoon. Na oorlegpleging met die 1973-manne via Google vraelyste, het die RK op twee modules besluit: ‘n “Sederberg Module”, wat sou plaasvind tussen 24-27 Februarie 2023; en ‘n “Kernmodule” op Stellenbosch, wat sou plaasvind tussen 28 Februarie en 1-5 Maart 2023.

‘n Totaal van 20 manne tesame met 10 van hul gades het die Sederberg-naweek bygewoon. Die naweek is afgeskop met ‘n bierproe en braai by Sanddrif en die Saterdag het ‘n groepie die Wolfberg-skeure aangedurf en die res het rustiger uitstappies onderneem, waarna ‘n wynproe by Cederberg-wynkelder gevolg het. Die Sondagoggend is die Disa Pool-staproete aangepak, lekker in die kuile geswem en die aand het almal weer heerlik saamgebraai.

Terug op Stellenbosch is die saalbyeenkoms op Dinsdag 28 Februarie bygewoon, gevolg deur ‘n boomplantseremonie langs die nuwe krieketveld. Op Woensdag 1 Maart, die skool se 157ste verjaarsdagviering, is die kransleggingseremonie by die stigters se standbeelde bygewoon, gevolg deur ‘n besoek aan die Argief en ‘n skooltoer.

Op Donderdag 2 Maart is ‘n omvattende wynproegeleentheid by Simonsig gevolg deur ‘n ligte ete. Die Vrydag het twee krieketspanne mekaar aangedurf volgens ‘n unieke stel reëls. Daarna is almal na Markotter vir ‘n eg tradisionele middagete in die vorm van ‘n heerlike snoekbraai.

Op Saterdag, 4 Maart, het ‘n groep van 55 manne, gades en oud-onderwyser David Taylor aangetree by Coetzenburg om deel te neem aan die Bergpadstap van 6 km. Dit was perfekte stapweer.

Die hoogtepunt van ons reünie was ongetwyfeld die dinee in die Markötter-klubhuis se suite op Saterdagaand, 4 Maart. Die getal persone teenwoordig by die dinee het aangegroei tot 66, terwyl die volgende spesiale gaste ook teenwoordig was: rektor André van Staden, oud-onderwysers David Taylor en Henry Ekron, Elza van der Walt en Mariena Kotze. Twee manne wat van ver af spesiaal ingevlieg het om die dinee by te woon was Jean-Marie Questiaux (België) en Dillie Malherbe (Londen, VK).

Herdenkingskerse is aangesteek vir die14 klasmaats wat ons reeds ontval het en gedenkpak-wyne van Old Boys is opgeveil. Skip Krige is ook bedank vir sy uitsonderlike bydrae met die skepping van ons dinamiese en interaktiewe aanlyn “PRG 1973 Blog”.

Terugskouend, het 50 van ons oorlewende 91 klasmaats ten minste een van die reünie-aktiwiteite bygewoon, ‘n bywoningspersentasie van 55% – heelparty van ons het die volledige program bygewoon. Inderdaad het die lede van ons klas van 1973 wat deelgeneem het aan die Reünie 50 ons harte opnuut oopgemaak vir ons Alma Mater en ons klasmaats van destyds.

Hartlik welkom, Paul!

Paul Benson (1990) Polla-portefeuelje

Paul Benson (1990) is pas gekoöpteer as lid van die OSU se Uitvoerende Komitee om die Polla-portefeuelje te hanteer.

Hartlik welkom, Paul! Die Old Boys sien geweldig uit om weer in die onderskeie streke saam gesellig te kuier en te netwerk.

Datums en meer besonderhede word eersdaags aan almal gekommunikeer.

Die bal is aan die rol in die Suid-Kaap

Polla George/Mosselbaai is nou behoorlik aan die rol. Dié groep het hul eerste geselligheid op 11 Februarie op George gehou en op 18 Maart 2023 weer so tydens die Outeniqua skole-rugbyfees gemaak. Op die foto verskyn aan die linkerkant van voor Andre Mostert, Willie Barnard, Gustav Potgieter, Peter Burnett, Elmarie Morison en Juan Morison; en aan die regterkant van voor sit Douglas van Reenen, Richard Muller, Santie Potgieter, Amanda Breedt en Sielie Pieterse.

Louis laat diep spore op die Afrikaanse kultuurterrein

Louis van Niekerk (1954), wat op 7 Februarie 2023 in die ouderdom van 87 in Johannesburg oorlede is, het diep spore in die Afrikaanse uitvoerende kunste as verhoog-, rolprent- en TV-akteur en teaterregisseur gelaat. Hy was ook voorsitter van die Teaterbystandsfonds.

Met sy diep stem en sterk verhoogpersoonlikheid het hy groot rolle in teaterproduksies gespeel, soos die titelrol in François Swart se Afrikaanse produksie van Othello in 1975. 

As Truk se artistieke direkteur in die 1980’s was oor die verloop van 33 jaar betrokke by meer as 200 produksies vir Truk.

Van Niekerk het ook talle TV-rolle vertolk, onder meer in Amalia, Die Vierde Kabinet, Fees van die Ongenooides, Getroud met Rugby, Agter Elke Man en Grondbaronne.

In 1990 is hy vereer met die Erepenning vir Toneelkuns van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en het hy ook die Gerhard Beukes-prys ontvang. In 2005 het hy die Afrikoon-toekenning van die ATKV en die Naledi-prys vir lewenslange bydrae tot teater gewen. In 2012 het hy ’n Fiesta-prys gekry vir sy lewenslange bydrae tot die teater.

Van Niekerk was getroud met Lettie Scheepers. Sy is in 1983 oorlede.

Louis van Niekerk (27 Junie 1935 – 7 Februarie 2023)

Bron: https://af.wikipedia.org/wiki/Louis_van_Niekerk

Daar was ‘n simbiose tussen Sparks en PRG

Die kringloop van die lewe: Sparks Esterhuysen as onderwyser, as kransduiker op Hermanus, tussen die dassies van Gearingspunt en omring met sy kinders: Frances Esterhuysen, Thea van der Merwe, en kleinseun.

Sparks Esterhuysen, legendariese oud- onderwyser van Paul Roos Gimnaisum en stigter van die Nasionale See-en-Sand Instituut op Hermanus, het op Dinsdag 11 April 2023 op Hermanus gesterf.

Huldeblyke van oor die wêreld heen het ingestroom en ‘n mens laat besef watter geweldige impak hierdie man as lewensinstrukteur op jong gemoedere gehad het.

Continue reading Daar was ‘n simbiose tussen Sparks en PRG